[p. 15]
[Gedichten van Elisabeth Eybers]
Tongval
Jou binnelandse vriende is vriendelik
teenoor die lig bevreemde vreemdeling
uit ‘n onordeliker kontinent.
Om saam te klink ten spyte van aksent
wil ek die vasgelegde wette leer
maar merk, as een haar meesterlik ontferm
oor my wat onvolledig konformeer
en hulp aanraai van ‘n logopedis,
hoe eiesinnig strotteweefsel is
wat die essensiële taal beskerm.
Terwyl ons lippe self die pleit besleg
kom klanknabootsing ook nooit tot sy reg;
vandat my spraakorgane jou geval
verwaarloos ek die medeklinkertal.
Elisabeth Eybers
Uit: Onderdak, in voorbereiding bij Querido.
[p. 16]
Eva en haar man
Ek moet nog altyd terugdink aan die dag
vlak voor die groot verhuising toe die slang
met flikkertaal my so verward en bang
gemaakt het. Ja – nou kan jy hom verag
en oor die vrou se deug as sondebok
teenoor die agterkleinkinders uitwei
as hulle met aandagtige gevlei
aartsvaderlike spreuke kom ontlok.
En langsaam word ek suf by die aanskou
van hoe jy alles dors of onderploeg.
Die werk is niks, Adam, maar dit maak moeg:
wat jy vergeet moet ek alleen onthou.
My aandeel – uitgebreider dan die borg
van daardie klein litteken in jou sy –
word sonder opset afgemeet: dat jy
orde kan skep moet ek vir chaos sorg.
Ruim jy maar op… Ag Adam, my geluk
bly onbedreigbaar (waterdamp verteer
tog nie die son) soos toe’k die eerste keer
my oë oopmaak en jy oor my buk.
Elisabeth Eybers
[p. 17]
Eva en haar seuns
Jy gee my rillings, kind, as jy jou vroom
neusgate wegdraai vir die stink van sweet
sodra jou broer kom aansit. God mag weet
wat jy bedags agter die skape droom.
Hy was my eerste – waar het ek die moed
vir meer gekry – en was van meet af man.
Praat van die duiwel… Kaïn, ruik ek dan,
oud en onvrugbaar soos ek is, weer bloed?
Elisabeth Eybers
[p. 18]
Desember
Die wind wat uit Siberië keer
raap ‘n boeket kerkklokke saam,
tas langs die nok, insinueer
hom deur die skrefies om my raam.
Don Juan van die boetseisoen,
oor jou voel ek nog steeds, verstaan,
soos vroue oor vrybuiters doen,
bly as hul kom, bly as hul gaan.
Die smal dag trek teen vieruur terug
vol huiwering en melancholie.
My longe haat die kaggellug.
Verdink my nie van kilheid nie
omdat ek swyg voor ons mekaar
nog meer mislei. Ek hou van jou
maar moes self vort verlede jaar
om iets wat heel was te onthou.
Elisabeth Eybers