Elisabeth Eybers
Jeugherinneringe
Enigsins tot my verbasing het die redaksie van Tirade besluit om ‘n skets van my kinderjare wat lank gelede in Suid-Afrika gepubliseer is, op te neem in hul tydskrif. Ses-en-dertig jaar gelede, toevallig op ongeveer ses-en-dertigjarige leeftyd, het ek dit geskrywe op versoek van die saamsteller C.M. van den Heever, wat nie alleen ‘n bekende romanskrywer en digter was nie, maar ook my professor in Afrikaans aan die Universiteit van die Witwatersrand (Johannesburg). Dit was moeilik om te weier, anders sou ek waarskynlik nie my aanvanklike onwilligheid -‘n soort gemaksugtige wantroue in my vermoë om iets te skrywe wat nie vanself by my opgekom het nie – kon oorwin het nie. Altesaam was daar elf Afrikaanse skrywers (waaronder drie ook-digters) wat meegewerk het aan die bundel jeugherinneringe wat in 1953 verskyn het. Toe ek dit onlangs vir die eerste keer in meer as dertig jaar weer bekyk, herinner ek my dat ek tog, na enige aarseling, die verhaal destyds taamlik snel en maklik neergepen het.
Ja, die verhaal. Ek neem aan dat ‘n mens se geheue sterk gemotiveer word deur ‘n behoefte om die verlede te sien as iets wat samehang en voortgang vertoon, ‘n grondslag vorm vir die toekoms, iets wat jou onaantasbare en unieke identiteit bevestig. Terwyl jou geheue te goeder trou sy scenario uitstippel, gaan by nooit volkome objektief en onpartydig te werk nie, selekteer en rangskik hy sy gegewens ter bevordering van wat sonder al te veel sinisme ook as verdigsel beskou kan word.
Toe ek hierdie herinneringe genoteer het, het ek gewoon in Johannesburg, die jong goudstad etlike male groter dan Amsterdam, was ek huisvrou en moeder van vier kinders, op ‘n stadium van my huwelik waarin ek geneig was om probleme en spanninge swyend toe te skrywe aan die verskil tussen my agtergrond en die van my man. Het ek daarom nostalgies teruggedink aan my kinderjare, verlang na die sfeer van geborgenheid, van gedeelde ideale en oogmerke? Hoe ook al, ek voel tot vandag toe dankbaar dat ek opgegroei het in ‘n vriendelike klimaat, in ‘n land van eindelose ruimtes, in ‘n kleurryke veelrassige samelewing, in ‘n tydperk toe die s.g. apartheid – altans in my verwende blanke bewussyn – nie bestaan het nie, in ieder geval nog nie tot politieke credo en basis vir wetgewing uitgeroep is nie.
Hoe verskriklik argloos my verhaaltjie in Europese ore mag klink, so was dit, of liewer, so onthou ek dit. As ek dit vandag moes oorskrywe, sou ek nog allerhande staaltjies kon toevoeg sonder om die uitgangspunt te omskep volgens ‘n hersiene hedendaagse perspektief.
In die afgelope tyd dirk ek dikwels terug aan my kinderjare, nie bepaald met heimwee soos aan iets wat ek verloor het nie – want so lank as wat mens se herinneringsvermoë lewendig bly, verloor jy niks wat jy eenmaal besit het nie – maar met die duidelike bewussyn dat dit die belangrikste en deurslaggewendste periode van my lewe was, en in baie opsigte ook die gelukkigste. Toe ek ‘n kind was, het my dagdrome (en ek vrees hulle het dikwels ‘n groot deel van die dag in beslag geneem) my weer voortdurend na die onbekende en tartende toekoms gevoer. Lewers anderkant die geslote horison wat my klein wêreldjie omkring het, het ‘die lewe’ gewag wat ek eendag as volwassene sou betree. My voorstelling van die lewe was fantasties en intens-emosioneel. Dit was grotendeels bepaal, nie deur my waarneming van die lewe van die grootmense rondom my nie, maar deur die bonte mengelmoes van avontuurverhale, liefdesromans en biografieë wat ek verslind het. Dit sou op die een of ander manier ‘merkwaardig’ wees, nooit saai of alledaags nie. Ek sou wonderbaarlike reise maak en allerlei avonture beleef, of anders sou ek ‘n weldoener van die mensdom word (‘n tweede Florence Nightingale of Marie Curie) of moontlik ‘n kunstenares op die een of ander gebied. Ek het van jongs af ‘n bepaalde voorliefde vir teken en modelleer aan die dag gelê en het op een stadium my toekomstige rol voorgestel as dié van ‘n vroulike Michelangelo. Wat maak dit saak dat die drome van ‘n verbeeldingvolle kind op onkunde en egoïsme berus, dat hy ‘n paar jaar later self spottend moet glimlag as by aan hulle terugdink? Sy drome (soos dié van almal) bly die stempel en sleutel van sy lot: al word hulle nie in ‘n enkele opsig letterlik bewaarheid nie, bepaal hulle, meer as enige uiterlike omstandighede, sy latere lewensgang.
Ek is in 1915 gebore in die Nederduits Gereformeerde pastorie van Klerksdorp, die tweede van drie dogters. Ek was skaars ‘n jaar oud toe my vader ‘n beroep na Schweizer-Reneke aangeneem het, en in hierdie Wes-Transvaalse dorpie het ek my kinderjare deurgebring, totdat ek op sestienjarige leeftyd na die Universiteit van die Witwatersrand vertrek het.
In my heel vroegste herinnerings speel voorwerpe ‘n groter rol as persone. Iemand – my ouma of een van my tantes – het vir my derde verjaardag ‘n koppie en piering van dun, wit porselein gestuur. Op die piering was die laggende gesig van ‘n langhaarskaaphond, en op die koppie (wat vlak en volkome silindervormig was) het ‘n gestreepte kat gestaan met ‘n blou
strik om sy nek. Die piering het die eerste dag al uit my hande gegly. Die meid het my opsy gestoot waar ek op die eetkamervloer gesit en probeer het om die fyn wit skerwe aanmekaar te las, en hulle sonder enige seremonie met haar vuil besem weggevee. Die ‘katkoppie,’ om teen ‘n dergelike ramp bewaar te word, is toe op die boonste rak van die muurkas gebêre. Elke oggend ná ontbyt het Moeder of Vader die hoë klavierstoel voor die rak neergesit en my opgetel om daarop te staan en na my katkoppie te kyk. Ek was bang om dit aan te raak en was doodgelukkig om in sprakelose bewondering daar te staan en net te kyk – ek wil amper sê, ure lank, in alle geval totdat my vet beentjies lam geword het en ek iemand geroep het om my af te tel. Daar was op dieselfde rak ander mooi dinge, wat Moeder geërf het of wat Vader meegebring het ná sy studiejare in Europa: ‘n rooi-engoud Venesiese koppie en piering, ‘n stel fyn Hollandse oorlose koffiekommetjies, en, kosbaarste seldsaamheid van alles, ‘n grys klei-lampie wat die eerste Romeinse Christene in die katakombes gebruik het en waarop die vis- en paddamotiewe dof geslyt maar nog duidelik herkenbaar was. Die katkoppie het egter lank vir my die mooiste voorwerp in die hele huis gebly. Ek weet nie of alle kinders so intens geheg raak aan ‘n enkele voorwerp nie. Later was dit ‘n diereprenteboek waarvan ek nou nog al die besonderhede van sekere bladsye helder kan onthou. Met hierdie boek in my arms geklem, het ek saam met my ouers en susters een Desembervakansie per trein afgereis na Kaapstad. Érens tussen Pudimoe en Kimberley het hulle my beweeg om die boek neer te lê toe ek na die toiletkamer moes geneem word. Toe ek terugkom, staan my jonger sustertjie op die bank besig om die groot, plat boek op en af te skuif teen die ruit van die toe venster. Terwyl ek vorentoe spring om dit van haar af te neem, sien ek net hoe sy die boek los en dit tussen die raam en die houtpartisie verdwyn in die diepte van die kompartement-muur. Vader het op allerhande maniere probeer om dit uit te vis, die kondukteur is ingeroep, maar al hul pogings was tevergeefs. Ek was ontroosbaar totdat ons laat die volgende dag in die Kaap aangekom het.
Saans het ek gaan slaap met Martha in my arms. Martha was ‘n Hollandse lappop met ‘n streng gesig en lang, slap bene aan wie ek my bedags weinig gesteur het, maar sonder wie se geselskap die donker nag vol grusame gevare was. My ouers se laaste taak voordat hulle saans gaan slaap het, was altyd om te sorg dat my beddegoed op so ‘n manier ingestop is dat Martha nie kon uitval nie, want anders sou hulle seker in die hartjie van die nag wakker gemaak word met ‘n jammerlike geroep van ‘Martha is weg! Martha is weg!’
Op een stadium was dit ‘n gomlastiekbal wat my soveel estetiese en sintuiglike bevrediging verskaf het dat niks in later fare presies dieselfde
gloeiende gewaarwording in my gewek het nie. Telkens wanneer Vader in verband met kerklike sake Pretoria toe moes gaan, het by vir elkeen van ons ‘n interessante geskenkie teruggebring. Dit was gewoonlik een of ander nuttige voorwerp vir skoolgebruik, ‘n oulike potlooddoos, vulpotlood, penhouer of knipmes. Maar ek was nog te klein vir so iets toe Vader een slag vir my ‘n sagte blou bal gebring het wat toegedraai was in papier met illustrasies wat aangetoon het dat mens dit met messe en ander skerp voorwerpe kon deurboor sonder om dit te beskadig. Dit het heeltemal anders gevoel en geruik as enige ander bal wat ek ooit besit het. Dit kon pragtig hoog spring, maar ek was verbied om dit in die huis rond te gooi en op die klipperige grond buitekant sou dit stof en krapmerke opdoen. Ek het dus nooit enige balspeletjies daarmee gespeel nie, maar het by voorkeur alleen in ‘n lekker hoekie van die tuin of die kerk gaan sit en dit geniet deur dit saggies tussen my handpalms te knie, daaraan te snuif, my wang daarteen te vryf of met die punt van my tong die fyn naatjie om die middellyn te volg.
Die pastorie waarin my susters en ek grootgeword het, was ‘n afgesonderde, selfgenoegsame wêreldjie waarin my ouers die rol van goedgesinde en alwyse despote gespeel het. Omdat Vader nie gereeld soggens vroeg die huis terwille van sy werk verlaat het nie, het by ‘n belangriker plek in ons lewe ingeneem as wat in die meeste dorpsgesinne die geval is. Hy was ‘n afgetrokke, kontemplatiewe persoon, ‘n leser en student, maar terselfdertyd baie prakties en behendig in die klein dingetjies wat vir kinders so belangrik is. Pyl-en-boog (van kweper- of, nog beter, van vaalbostakke), pampoenfluit, woer-woer, papiermannetjies, e.d.m. het hy ons leer maak, en ek het altyd voorkeur gegee aan dergelike speelgoed bo meisieagtige goed soos slaappoppe en teestelletjies.
Omdat daar geen seun in die familie was nie, moes ons vanselfsprekend allerlei take verrig wat meisies nie gewoonlik doen nie. Vader het ‘n deskundige oog gehou oor die versorging van die melkkoeie, kalwers en varke en oor die bewerking van die groot vrugte- en groentetuin. Ons was wat dit betref veelal selfonderhoudend, en daar was meer werk as wat die tuinjong kon behartig. Vader was uiters puntenerig, en dit was moeilik as mens help tuin natlei om die grondwalletjies presies te gooi soos hy dit verlang. Water was skaars as die wind nie waai nie (ons was uitsluitlik afhanklik van twee boorgate) en bewaar jou siel as jy so lekker met jou kaal voete in die leivore speel dat jy die stroom in die verkeerde akker laat loop of ‘n swak plek in ‘n wal verwaarloos en die water daar deurbars! Maar selfs wanneer by ons skrobbeer, het sy taal kalm en oorwoë gebly.
Ons tuin was ‘n ware lushof, en ek twyfel of daar destyds ‘n dergelike oase in die hele Wes-Transvaal bestaan het. Dit het ‘n groot aantal vrugte-
bome bevat en digtoegerankte druiwepriële wat dwarsdeur die somer hoë, koel, groen tonnels gevorm het. Onder die grootste prieel was ‘n lang, smal tafel met bankies. In die somer het ons dikwels saans hier geëet. ‘n Groot bak toebroodjies, aangevul met geelwortels, radysies en blaarslaai wat elkeen vir homself uitgetrek of gepluk en onder die pomp afgespoel het, ‘n beker melk opgevang waar die jong sit en melk, vrugte waarvoor jy net boontoe hoef te strek, en die geur van vars grond en lower wat teen sononder altyd skerper word. Tussen die rye vrugtebome en groenteakkers (waar alles, van groenmielies, turksvye en pampoene tot aarbeie en aspersies gekweek is) was ‘n roosakker en goedversorgde blombeddings sodat die geheel in die oë van ‘n kind, wat alles nog groter en ruimer sien as ‘n grootmens, ‘n parkagtige indruk gemaak het. Die tuin was ‘n ent van die huis, aan die suidekant, en die paadjie wat van die agterstoep daarheen gelei het, het voor die kerk (was as’t ware in ons agterplaas gestaan het) verbygegaan. Die groot, kruisvormige kerk (‘n breë ‘skip’ met twee vleuels) met sy pragtige swaar klipmure het ook as beskutting vir die tuin gedien. Waar die tuinomheining aan die kerk gegrens het, naby die leidam wat ook ons swemplek was, was ‘n hoekie wat feitlik nooit sonlig ontvang het nie. Hier het klimop weelderig gegroei en was die klippe met mos bedek. Agter ‘n struik het ek vir my van boomstompe ‘n bankie gemaak; in hierdie skuilplek was ek doof vir elke geroep en het niemand my ooit ontdek nie. ‘n Ander wegkruipplek was die voersolder bokant die pakkamer en koeistalle, wat mens langs ‘n buitetrap bereik het en wat altyd deurtrek was van die opwindende geur van droë lusern. Hiervandaan het mens afgekyk op die groen bomesee van die tuin, en dan verder (ons erf het aan die onderste straat van die dorp gegrens) na die laagte wat aflei na die wilgerboomomsoomde Hartzrivier. Oorkant die brug het die wit pad weer gestyg en weggekronkel tussen doringbosse en kliprantjies.
Voor die huis, aan die straatkant, was Moeder se blomkwekery minder geslaagd: die warm son en noordewind was ‘n vyand van alles behalwe die taaiste inheemse blomsoorte en sy het haar mettertyd hier toegelê op ‘n rotstuin met allerlei interessante vetplante. ‘n Ry sipresbome was die skeiding tussen voortuin en straat. Gedurende die grootste deel van die jaar het ons op die voorstoep op kampbeddens geslaap. Weerskante van die stoeptrappie het twee geweldige yuccaplante gestaan. Wanneer die wasagtige blomkelke bokant die skerpgepunte, alwynagtige blare-nes oopgaan, was die soet geur snags haas bedwelmend. Die swart, hoekige silhoeëtte van die sipresbome was ‘n geheimsinnige wal waarbo die fonkelende nagkoepel gestrek het. Om nege-uur het die klok by die polisiestasie gelui, en daarna mog die naturelle nie meer in die strate rondslenter nie. Dikwels tot laat in die nag het die geluid van hul gesing in die lokasie, die veelstemmige
liedere met eindeloos-eentonige, weemoedige herhalings, oor die stil dorp gedryf. Die enigste ander geluide wat ooit die nagstilte versteur het, was die klanke van jazzmusiek as daar een keer in die maand ‘n dans in die hotel gehou is (wat net deur ‘wêreldlinge’ bygewoon is), of met die weeklikse bioskoopvertoning in die dorpsaal waarheen ons af en toe gegaan het as ons ouers die film geken en goedgekeur het.
Saans het ons sorgeloos aan die slaap geraak onder die gesang van krieke en paddas. As die wind waai, het ons ons koppe toegetrek onder die komberse en geluister na die gesuis en gekraak van die hoë bloekombome en na die windpomp wat telkens ‘n enkele langgerekte klaagkreet laat hoor het. Soms het ‘n kwaai donderstorm in die nag losgebreek. Die stoep was smal en die noordewind het dikwels die reën ingedryf sodat ons met papnat gesigte wakker geword het. Vader was altyd gou op die toneel in sy lang grys kamerjas, lantern in hand, om die seilskerms van die veranda te laat afrol. ‘n Geweldige donderslag het ons soms gewek, maar kinders kan so vas slaap dat die weerlig een nag ‘n stoeppilaar van die skoolkoshuis oorkant die straat getref het sonder dat ons daarvan geweet het voor die volgende oggend. As die storm ons nie wakker gemaak het en die seilgordyne weens die sterk wind nie dig genoeg vasgemaak kon word nie, het Vader ons in ons beddegoed toegedraai en binnetoe gedra: ek het meer as een oggend op my bed in die kamer wakker geword sonder die minste herinnering van waarom, hoe of wanneer ek van slaapplek verwissel het.
Aan die westekant van die huis was ‘n ry hoë bloekombome wat ‘n ideale speelplek uitgemaak het. Ek was waaghalsig van aard en het enigeen uitgedaag om my tot in die boonste skraal takke te volg. Dit was met groot verontwaardiging dat ons kinders van tyd tot tyd moes toesien dat die bloekombome se hoogste takke afgesaag word omdat Vader van die munisipaliteit kennis gekry het dat hulle ‘n gevaar vir voetgangers op die sypad word. Die bloekombome was die tuiste van duisende spreeus en mossies. As die skade wat hulle in die vrugtetuin aanrig darem eens te erg word, het Vader af en toe teen sononder (wanneer hulle almal hul intrek geneem het vir die nag en daar amper net soveel voëls as blare was) ‘n paar skote met sy haelgeweer gelos, waarna die bediendes mandjiesvol voël-lykies kon optel en huis toe neem om te kook. Maar voordat Vader kon skiet, moes een van ons eers oom Giel van Niekerk oorkant die straat – sy huis het net onderkant die skoolkoshuis gestaan – gaan waarsku. (Hy het aan hartkwaal gely en het twintig jaar lank op die stoep gesit terwyl tant Mieta binnekant die naaimasjien sit en trap het om hulle aan die lewe te hou.)
Anderkant die vrugtetuin was daar nog die ‘luserntuin’ waar die voer vir die koele gekweek is. Die kerkeiendom (wat pastorie, kerksaal, tuine en
buitegeboue behels het) was so groot soos tien normale erwe en het ‘n hele blok beslaan, waaruit egter aan die noordekant’n strook gesny is waarop ‘n paar Indiërwinkels gestaan het (deur ‘n hoë klipmuur van ons geskei) en aan die suidekant ‘n enkele erf met die plaaslike hospitaaltjie daarop. ‘n Laning peperbome tussen die vrugtetuin en die luserntuin het na laasgenoemde gelei. Later is ‘n groot, moderne hospitaal aan die oorkant van die dorp gebou. Maar toe ek ‘n kind was, was die lae klipgeboutjie met sy rustige uitsig op die bosryke rivierwal die enigste verpleeginrigting. Moeder het ons gereeld soontoe gestuur om blomme en vrugte weg te bring vir die pasiënte. ‘n Lang, smal gebou aan die westekant van die kerk (en grensende aan die ‘Indiërbuurt’) het die kerksaal en drie ouderlingkamers behels, waar met nagmaal en ander belangrike kerkgeleenthede ‘n aantal kerkraadslede altyd tuisgegaan het. In elke kamer het ‘n paar ysterkateltjies en ‘n wastafel met geblomde wasbak en -beker gestaan. Ek het dikwels gehelp om vroeg Sondagoggend warm skeerwater en koffie hierheen aan te dra. Ons het geweet waar die sleutels van die ouderlingkamers agter die konsistoriedeur hang, en in die week het ons heerlik hier ‘huis’ gespeel.
In die kerksaal het ek my eerste skoolonderrig ontvang. (Die dorpskool was chronies te klein, en daar is altyd klasse gehou in die kerksaal, in die Gereformeerde kerk en in die vrymesselaarslosie.) Dit was net ‘n hanetreetjie van ons agterdeur, en ek kon altyd speeltyd huis toe kom om tee en boerbeskuit te geniet. Ook vir ‘n ander doel kon ek huis toe kom: my moeder, wat ons grootgemaak het volgens die Kaaps-viktoriaanse tradisie waarin sy self grootgeword het, het ons ten strengste verbied om speeltyd saam met ons maats te draf na die end van die peperlaning waar – oorkant die ingang na die hospitaal – twee sinkkonstruksies gestaan het met ‘n afskorting tussenin waarop in groot, ornamentele rooi letters damus en heere geskilder was. Teen hierdie verbod het ek geen beswaar gehad nie want dit was hoeka ‘n onwelriekende buurt, maar wat ek tot in lengte van dae as ‘n onreg beskou het was die feit dat sy daarop aangedring het dat ek ‘n driekwartier voor die skool se normale sluitingstyd moes huis toe kom. Ek was naamlik ‘n senuagtige en enigsins tingerige kind en sy het gemeen dat die skooldag te lank en vermoeiend vir my was. Die vernedering van elke dag op die vasgestelde tyd deur die juffrou in kennis gestel te word dat dit nou tyd vir my is om huis toe te gaan, het nooit afgeneem nie, en daarvoor het my maats ook gesorg. As ek nog enigsins gedraal het met die inpak van my lei en boeke dan het een van hulle half opgestaan om by die venster uit te kyk en my dan dringend iets toe te fluister soos: ‘Maak gou! Jou kindermeid wag al buitekant!’ Elke ding wat my van my klasmaats onderskei het, het die lewe vir my moeiliker gemaak. As pastoriebewoners het ons meer as ons regmatige aandeel aan kritiek ontvang: wat ons maats
tuis gehoor het, het hulle spottenderwyse teenoor ons herhaal. Wanneer die kritiek ons ouers gegeld het, het dit diep seergemaak en was ons magteloos om hulle te verdedig deur terug te spot. ‘Jou ma hou skool. As ‘n getroude vrou werk, neem sy die brood uit die arm mense se mond uit.’ ‘Jou pa verbeel hom oor hy predikant is, is hy baas van die dorp.’ ‘Julie is verskriklik suinig, want julle eet bruin brood soos kaffers.’ ‘My oom sê jou pa het nou die dag op die stasie ‘n kaffer met die hand gegroet.’ (Laasgenoemde was ‘n verwysing na die feit dat Vader ‘n nuwe naturelleevangelis gaan afhaal en in sy motor lokasie toe geneem het. Hy het hom heelhartig vir die sendingkerk beywer en was dus besonder kwesbaar teenoor dié van sy gemeentelede wat hul vooroordele tot deugde verhef het.) Ek het mettertyd geleer dat ons ouers opreg gewild en gerespekteer is deur die oorgrote meerderheid van hul gemeentelede en toe ek later teruggedink het aan die onaangename laerskoolepisodes het ek besef dat die spot altyd van dieselfde groepie minderwaardiges afkomstig was. Maar indertyd het dit ‘n diep indruk op my oorgevoelige gemoed gelaat en was dit seker een van die faktore wat my pynlik skaam en in-my-dop-gekruip gemaak het. Ek het vroeg in my lewe die kuns aangeleer om strak en uitdrukkingloos voor my uit te staar sonder om my oë te knip of my asem te diep in te trek sodat die trane wat agter my oogappels skroei nie kan deurbars vorentoe nie. Sekerlik het ek nooit gedroom om die dinge wat my op skool gekwes het, tuis te herhaal nie. Ek was meer as twee jaar onder die gemiddelde ouderdom van my klas, sodat ek, wat lewenswysheid en fisiese ontwikkeling betref, agter was by my maats terwyl ek hulle in ander opsigte vooruit was. Dit was nie soseer ‘n kwessie van intelligensie nie, maar eerder dat die atmosfeer tuis en die groot aantal boeke wat ek gelees het my tot vinniger ontwikkeling gestimuleer het. Hoe dit sy, my eerste skooljare was vervelig en dikwels ongelukkig. In die hoërskool het alles egter verander: ek het liggaamlik opgeskiet, my geestelik aangepas, van my maats en onderwysers gehou, my skooljare geniet en ‘n vroeër ongekende selfvertroue ontwikkel. Op dertienjarige leeftyd het ek ontdek dat ek hou van opstelle skryf en veral ons Engelse onderwyser het my uitgelok om my hierop toe te lê. Ek sal nooit vergeet nie wat dit vir my beteken het toe hy eendag onder ‘n opstel wat ek vir huiswerk moes doen, in plaas van die gebruiklike puntetoekenning en opmerkings in rooi potlood, eenvoudig ‘Thank you’ geskrywe het. Dit was ook aan horn te danke dat my eerste pogings tot verseskryf in Engels geskied het.
Gelukkig was daar op skool weinig verpligte sport of georganiseerde geselligheid, sodat ons die lang middae vry was om rond te slenter, te speel of te lees. Ons huis was vol boeke. Daar was boekrakke in feitlik elke vertrek; in Vader se studeerkamer het hulle langs drie mure tot by die
plafon gestrek – Engelse boeke, Nederlandse boeke, ‘n klompie Duitse boeke en die handjievol Afrikaanse boeke wat destyds bestaan het. Tussen die sober teologiese en kerkregtelike handboeke was volledige stelle van Shakespeare, Scott, Dickens, Thackeray, die Brontës, Jane Austen, al die Viktoriaanse digters, talle avontuur- en reisverhale en ‘n groot aantal moderne romans. My Moeder het ‘n deeglike kennis van die Engelse letterkunde besit, sy was en is die mees wydbelese vrou wat ek ken. Op ses-en-twintigjarige leeftyd was sy reeds prinsipale van die Oranje-Meisieshoërskool, sy het uitgeblink in matesis en kon alle hoërskoolvakke behalwe Duits doseer. Dikwels wanneer daar ‘n personeeltekort aan die hoërskool was, moes sy help. Hoewel sy van kindsbeen af aan asma gely het, het sy oor ‘n verbasende voorraad liggaamlike sowel as geestelike energie beskik. Sy het haar heelhartig en pligsgetrou ingewerp in die rol wat sy moes vul as plattelandse predikantsvrou en huisvrou, so ver verwyder van die akademiese stadslewe waaraan sy as ou Kapenaar en lid van ‘n intellektuele familie gewoon was. Natuurlik was sy glad te ‘gevorderd’ vir haar omgewing en as dit nie was dat sy ware menseliefde en ‘n kostelike humorsin besit het nie, sou sy seker baie ongelukkig gewees het. Sy was, soos alle intelligente en energieke mense, haastig en ongeduldig van aard, en was nooit ‘lieftallig’ of besonder toegeeflik nie. Onvermydelik het daar botsings gekom tussen ouerlike gesag en kinderlike opstandigheid; ons kinders was al drie prikkelbaar en opvlieënd en het ook onder mekaar baie rusie gemaak. Dit was eers toe ons grootgeword het dat ons werklik Moeder se veelsydigheid, haar geestigheid en haar onuitputlike bron van algemene kennis kon waardeer en geniet.
My ouer suster, Marianne, is op twaalfjarige leeftyd na die Bolandse kosskool gestuur waarvan een van Moeder se susters destyds prinsipale was – hoofsaaklik omdat daar tuis nie behoorlike geleentheid vir die ontwikkeling van haar musiekaanleg was nie. Twee maal per jaar (die kort vakansies was te kort vir die lang treinreis) het sy huis toe gekom met staaltjies van koshuisfratse en met foto’s van allerlei spanne, groepe, klubs, kringe en komitee’s waarvan sy lid was. Ons was trots op haar en sy het ons baie plesier verskaf met haar klavierspel en sang. Sy was bowendien die ‘soet’ een van die gesin, pligsgetrou, prakties en verantwoordelik, die ‘voorbeeld’ wat altyd teenoor my en my jonger sussie voorgehou is vir navolging. Geboë onder die besef van háár meerderwaardigheid het ek op my beurt weer probeer om my gesag te laat geld teenoor Jeannette, wat ure lank alles wat ek voorskryf ewe gedwee kon saamspeel om dan weer ‘n plotselinge onafhanklikheid aan die dag te lê wat ons met kwaai verwyte uitmekaar gedryf het. Jeannette en ek het allerhande geheime speletjies gespeel en ‘n aantal geheime formules vir spesiale geleenthede gehad wat
ons met niemand anders gedeel het nie. Een van die baie dinge wat ons in gemeen gehad het, was ons gehegtheid aan oom Manie, die koster. Ons het soos twee brakkies saamgedraf terwyl hy elke Saterdag die groot, leë kerk uitgevee en die honderde banke afgestof het. Die pragtige vergulde hanglampe (aan elke ketting het ‘n tros van ses lampe gehang) met al hul krulle en tierlantyntjies het baie sorgvuldige skoonmaak vereis. Oom Manie was, vandat ons hom leer ken het, stokoud en effens bewerig. Een van ons het altyd die trapleertjie vasgehou wat hy moes bestyg om die lampe te vul en die pitte gelyk te knip. Die ander het dan om die beurt die skêr, die oliekraffie en die glasskoorstene (wat ons intussen blinkgevryf het met ‘n stuk ou damastafeldoek wat Moeder gereeld vir die doel moes verskaf) sorgvuldig aangegee. Hy het ons geleer om vroeg Sondagoggend te sorg dat die aankondigingboek, die groot Bybel en Gesangboek (met nagmaal of doopdiens het die formulierboek daarby gekom) reg lê in die volgorde waarin Vader hulle sou nodig kry. Elke Doopsondag het hy voor die diens ‘n beker kookwater by die kombuis kom haal om die marmer-doopfont te vul; teen die tyd dat Vader die water op die onskuldige voorhofies moes drup, was dit aangenaam lou. Hy het ons geleer om die swaar kerkklok te lui, iets wat geensins ‘n kwessie van blote toutrek was nie maar volgens ‘n spesiale tempo en ritme moes geskied en wat niemand in die dorp behalwe by en ons behoorlik kon doen nie. Oom Manie was op sy oudag nogal verstrooid en Vader het dikwels vir my of Jeannette gebied om in alleryl die klok te gaan lui as dit blyk dat die koster vergeet het van ‘n biduur, vergadering, huwelik of begrafnisdiens. Oom Manie het sagte blou oë gehad wat geestig kon fonkel as hy die een of ander staaltjie uit sy jongdae vertel. Sy oorhangende snor het sy mond heeltemal bedek sodat mens hom nouliks kon sien glimlag, maar sy sagte wit baardjie het kort-kort vriendelik of geamuseerd gebewe terwyl hy na ons gebabbel luister en ons vrae met eindelose geduld beantwoord. Hy het in sy swart onderbaadjiesak ‘n vet horlosie gedra wat, kompleet met ketting en klep, sewe sjielings en ‘n sikspens gekos het. Elke Saterdagoggend het by na die poskantoor gestap om die regte tyd te kry en dan daarvolgens die kerkhorlosie te gaan regstel. Hoe hoogmoedig was ek toe hy aan my die eerste keer hierdie gewigtige taak toevertrou het! Sy horlosie kon uitstekend tydhou tussen die poskantoor en die kerk, en die enkele keer wat dit gaan staan het, was dit net nodig om ‘n paar fyn tabakkrummeltjies uit die ratwerk te blaas om dit weer aan die loop te kry.
Oom Manie was nie alleen koster nie, maar ook dorpsouderling. As kind het hy skaars lank genoeg skoolgegaan om behoorlik te leer lees en skrywe, maar hy het oor ‘n merkwaardige natuurlike intelligensie beskik en het ‘n vermoë gehad om sy vindingryke redenasies met allerlei oor-
spronklike kwinkslae op te luister. As Vader weg was, wat taamlik dikwels gebeur het – die gemeente het destyds tot diep in Betsjoeanaland gestrek en hy moes op bepaalde Sondae buitedienste hou in die verskillende wyke – het een van die dorpsouderlinge gewoonlik die diens waargeneem. Ons was altyd bly as dit oom Manie se beurt was, want hy het ons nooit op die ellelange en stoppeldroë ‘Spurg jon’ vergas nie maar het uit die vuis ‘n oorspronklike redevoering gelewer van agter die kateder wat onder die preekstoel gestaan het. Vader se preektrant was sober en innig, sonder die dramatiese stemverheffings en gebare wat destyds menige dominee se forte was, en meestal ver bo ons kinderlike begripsvermoë. Gedurende sy preke het ons meer met ons oë dan met ons ore ingeneem: die lang, regop gestalte in die swart toga, die asketiese profiel en die gevoelige skraal hande wat langsaam en liefderik oor die blaaie van die oop Boek beweeg het. Daar was iets onwêrelds, iets mistiesontroerends in die weeklikse getuienis van ‘n diep en opregte geloof in die Bo-tydelike, iets wat ons van kleins af onbewus aangevoel het en wat dit vir my tot vandag toe onmoontlik maak om te duld as daar spottend of uit die hoogte oor godsdiens gepraat word deur diegene wat persoonlik geen godsdienssin het nie. Wanneer oom Manie gepreek het, was dit egter soos ‘n klein vakansie in die kerk: hy het oor die alledaagse gepraat, selfs die ‘hemelske’ was nooit te ver van die ‘aardske’ nie, ons het sy beeldryke taal geniet, en veral sy afwykings wat soms aan die komiese gegrens het as hy hulle so ver gevoer het dat hy met ‘n ‘Waarmee was ons flussies nou weer besig?’ moes terugkeer na die hooftema.
Gedurende die week was die kerk vir ons kinders ook ‘n geliefkoosde plek. Ons mog enige tyd die sleutel neem en ingaan op voorwaarde dat ons geen lawaai maak wat buitekant gehoor kon word nie. Saam met ons maats het ons wegkruipertjie gespeel (sonder om te gil as ons ontdek word), mekaar in die huwelik bevestig met bruidsluier, huweliksformulier, orrelspel en blomme, ons poppe plegtig gedoop en begrafnisredes gehou oor die lykies van voëltjies wat ons van die kat afgeneem het. ‘n Enkele keer was daar klagte van ‘n verbyganger omdat een van my susters ‘wêreldse’ musiek op die orrel gespeel het, een middag het ek my enkel beseer toe ek van die galery in die preekstoel gespring het en ‘n ander keer het ek ‘n bose ingewing gevolg en aan ‘n bottel nagmaalwyn (soet Jerepigo) geproe, ‘n daad wat my nagte lank ondraaglike gewetenswroeging besorg het.
Daar het dikwels besoekende predikante by ons tuisgegaan met ringsitting, nagmaal, of ander geleenthede. Gedurende die lang, gesellige middagete het ons vol belangstelling geluister na die grootmense se gesprekke. Vader se kollegas was oor die algemeen grappiger, lughartiger,
minder ernstig dan hy. Hulle het mekaar ‘broeder’ genoem (later het dit ‘broer’ geword) en ek was aangenaam geskok toe een van Vader se tydgenote hom eendag aan sy skouer beetpak en familiair as ‘Eybers’ aanspreek. Soms het die gesprek oor praktiese gemeente-aangeleenthede gegaan, soms oor landsake, soms oor gewigtiger teologiese kwessies. Toe die ‘Du Plessis-saak’ ‘n brandende geskilpunt was, is daar vurige debatte om die eettafel gevoer waarin Moeder ook ‘n lewendige aandeel geneem het. My ouers was ‘ortodoks’ sonder om bekrompe te wees; vroomheid het by hulle swaarder geweeg as fundamentalisme en hulle was diep verontwaardig oor die eiegeregtigheid van diegene wat prof. Du Plessis as ‘ketter’ bestempel het. Wat politiek betref, het Vader nooit in die openbaar laat blyk by watter party sy simpatie gelê het nie, omdat hy beskou het dat deelname aan politiek indruis teen ‘n predikant se herderlike plig – ‘Wee hom deur wie die aanstoot kom,’ het hy meer as eens in hierdie verband aangehaal. Ek herinner my egter goed die gedempte vreugde en opwinding wat in ons huis geheers het toe die Nasionale Party onder generaal Hertzog vir die eerste keer aan die bewind gekom het in 1924. Toe my ouers aan ons verduidelik het wat Hertzog vir die Afrikanervolk gedoen het, het hulle veral klem gelê op sy groot betekenis vir die taalstryd. Vader was een van die eerste predikante wat die moed gehad het (destyds het dit moed geverg) om Afrikaans i.p.v. Nederlands as kanseltaal te gebruik, ondanks die opposisie van ‘n groep invloedryke lidmate wat elke innovasie (soos nagmaalkelkies i.p.v. een beker vir almal, blomme voor die preekstoel, kort baadjies i.p.v. manelle vir kerkraadslede, korter haredrag vir vroue, e.d.m.) as ‘teen die Bybel’ bestempel het. Op sy beskeie, besadigde manier het Vader voet by stuk gehou en nooit sy oortuigings prysgegee nie. Hy het my eendag met trots vertel hoedat ‘n bekende persoon van oupa Eybers gesê het: ‘Hy is ‘n Afrikaner op sy twee voete.’ As ek op my beurt moet konstateer watter uitspraak oor my eie vader my die meeste voldoening gegee het, dan dink ek aan die waardige ou oom wat saam met hom op kommando was en eendag aan my gesê het: ‘My kind, jou pa was nooit ‘n bang man nie.’ Presies en kieskeurig soos alles omtrent sy persoon en handelwyse was ook Vader se taal. As hy ‘n artikel vir Die Kerkbode geskryf het of in sy hoedanigheid as Actuaris van die Transvaalse kerk ‘n adviesbrief aan die een of ander kerkraad moes rig, dan het by altyd met groot sorg sy frases gewik en geweeg. ‘Sou hierdie woord die beste wees, of klink dit só beter?’ het by dikwels aan Moeder gevra.
Ons het Vader gereeld op sy huisbesoektogte vergesel, ons het baie in die veld uitgekamp, dikwels piekniek gehou, baie naweke by goeie vriende op plase deurgebring. So het ek die veld leer ken en liefkry. Naas betreklik welvarende gesinne was daar in die distrik en veral op die delwerye wat aan
die dorp gegrens het, baie wat in die uiterste armoede geleef het. So het ek vroeg en dikwels van naby tonele van menslike gesonkenheid en ellende gesien wat ‘n onuitwisbare indruk op my gemoed gemaak het.
Oor die algemeen was ek in my sosiale verhoudings minder gelukkig as in die beskutte atmosfeer van ons huislike lewe waar niks wat lelik, materialisties of ru was, geduld is nie. Van kinderpartytjies het ek nooit gehou nie; die maats met wie ek anders so lekker saamgespeel het, het skielik vreemdelinge geword in ‘n atmosfeer van onverteerbare eetgoed, onsinnige speletjies, lawwigheid en vuilpraatjies. Waarskynlik was die feit dat ek van kleins af ‘n swak maag gehad het, grotendeels daarvoor verantwoordelik. Alle partytjies het op dieselfde manier geëindig: ‘n samegestelde ellende waarin die elemente van mislikheid, eensaamheid, weersin en verveling deurmekaar gevloei het, het op my toegesak, en ek het dikwels gewens dat ek ‘n man was en in die middeleeue geleef het, sodat ek ‘n kluisenaar kon word.
Ek was in baie opsigte nog ‘n blote kind toe ek oorgeplant is uit die rustige veiligheid van my jeugomgewing in die studentelewe van Johannesburg. Gedurende my eerste jaar in die vreemde omgewing het die knaende heimwee na my ouerhuis my letterlik siek gemaak na liggaam en gees. Vanuit al die pynlike konflikte wat gedurende die periode van aanpassing ontstaan het, het ek begin om die verse te skryf wat ‘n paar jaar later in my eerste bundel opgeneem is.