Pantograaf
My kinderjare-van-vóór-tyd
het ek benut om altijd weer
met angstige opsetlikheid
vreemde ontwerpe te traseer:
die tokkelossie het verskyn
in vae spatsels teen die muur,
krom drake in die meubelgrein,
kwaai Zoeloe-impi’s in die vuur…
Hòe tyd sy roede oor my hou,
bly ek nog wars van wat verward
en sinloos strengel, tuur ek nou
diep in die kykkas van die hart,
verwondert dat na elke hort,
ná elke nuwe skommeling,
die skerwe weer gerangskik word
binne hul ingeperkte kring:
deursigtig, wisselvallig, fyn,
naïef en vereenvoudig soos
heraldiese patrone, klein,
kaleidoskopies eindeloos.
Elisabeth Eybers