[p. 41]
Afskeid
Leegheid was plotseling ‘n donker gordyn
tussen my sintuie en my brein.
Ek weet nie hoe lank het die terugrit geduur,
my hande was willoos gevou om die stuur.
My voet het op die versneller gerus,
van snelheid of afstand onbewus.
Strate het dwars verby gegly,
wig na wig tussen jou en my,
en elke lamp was sekuur gemik
om ‘n nuwe kol teen die netvlies te prik.
Dwarsdeur die nag het die motorgesuis
soos ‘n dowwe tamboer in my skedel geruis
en weerskante het die bomery
soos ‘n eindlose riffelband gesprei.
Die sterretrapesium bo die pad
het langsaam laer en skewer gesak
en die halwe maan se goudgeel skyf
het omgekantel en weggedryf.
[p. 42]
Met oë soos myne, wyd en blind,
kan ‘n slaapwandelaar sy weg ook vind
en niks uit die donker kon my raak
want jy het die kruisteken oor my gemaak,
want jy het jou mond teen myne gevoeg
en my aangekyk en dit was genoeg.