[p. 65]
Elisabeth Eybers
Die ontmoeting
Ek wou al wat ek het vir jou bewaar:
die jonkheid van my lyf, ‘n hart wat bly
en sterk is en gelate om te ly
en oë wat weifelloos en helder staar.
Deur al die jare was ek wys en vroom
in stil afwagting, en jy was nie ver
want bo ons hoofde was dieselfde ster
en in ons harte was dieselfde droom.
Ek het alreeds die gretigheid geweet
van jou gelaat en dikwels het ek jou stem
gehoor met ligte aarseling en klem…
Toen was dit dat opeens die sagte kreet
van welkom klankloos bly: met ‘n gebaar
van vae ontsteltenis staan ons voor mekaar.