[p. 56]
Elisabeth Eybers
Midas
Eers goed nadink oor wat ek nog moet doen
dat al die nuttelose dinge stol,
metaal word vir my vingertoppe. Geel.
(Wat week, onrekenbaar is bly te veel.)
Dat alles swyg.
Hoe klink my naam nou weer?
– Ja, Midas, koning Midas van die vol
skatkis. (Sý het my by ‘n ander naam genoem,
die eerste wat ‘n kind ná moeder leer.)
Die vrouegekakel swyg.
Wat is ‘n vrou?
– Iets wat jy gryp vir die kort lekkerkry,
‘n skeur virjou behoefte (kan ‘n hond
een boomstam van ‘n ander onderskei
behalwe aan die bruikbaarheid, die geur
wat vroeër honde plant?)… dan die geseur,
die sinlose versinsels, die náklou,
die dom gesoebat: Midas, hou van my!
(Ja, Midas, asof hulle nie lankal weet
dat Midas koning, koning Midas heet!)
Dat slawe swyg. Só het ek hul geleer,
alles moet volgens plig en plan gebeur,
hulle ken die onverbiddelike les:
één wet vir Midas en één vir die res.
[p. 57]
En nou swyg sy. Ek het van haar vergeet.
My towerhand het alles aangeraak.
Ja, Midas, koning Midas kan ook streel,
háár vlees is van my warm vlees gemaak…
god god god god god god vat terugjou geel!