[p. 26]
Elisabeth Eybers
Nogmaals facialis
Die kaperjolle van verval
– beroering vroeër nooit vermoed –
ontsteek verwondering en vermaak
in oë van omstanders terwyl
my glimlag, half diagonaal,
versoening sein: my nuwe mond
waarvoor’k die egte in moes ruil
ontbeer die nimbus van ‘n wond,
ek dra dit soos ‘n skewe hoed
om te beduie wat-maak-dit-saak.
[p. 27]
Sug
Die skemering waarin ek versink
kan plots die verlede terugwink
eldorado van tintelende lig
onuitputlike vergesig
oase wat heeljaarlang
granietheuwels weelderig omvang
uitwaaierend buite die stad
so veerkragtig aaneengekrat
kinders nog klein en onskuldig
hul moeder inkennig onkundig
argloos en onbedag
op ‘n kataklismiese slag
deur noodlottige magte verwek
wat afwagtend sametrek…
verblindende helderheid bly
my splintergewyse by
hoe dan ook hoef ek nie weer
na daardie vulkaan terug te keer
[p. 28]
Waarneming
Hoe ingewikkeld weerloos is die mens,
jy sou hom eerder uit die weg moet gaan,
tog kom dit voor dat jy teenoor hom staan
sonder gebruiksaanwysing, met die wens
dat julle saam iets van mekaar mag leer
binne die sober voorbestemde perk.
Gaan dan met groot omsigtigheid te werk:
van alles waaraan hy hom kan beseer
– hy wat so seldsaam letselvatbaar is –
sal jy jou nooit volledig vergewis
vóór dit te laat is om hom af te sweer.